Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 4:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het, soos Moses hulle beveel het, in formasie voor die Israeliete getrek.

13. Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe.

14. Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses.

15. Die Here het vir Josua gesê:

16. “Sê vir die priesters wat die ark met die getuienis dra, hulle moet uit die Jordaan kom.”

17. Josua het toe die priesters beveel om uit die Jordaan te kom,

18. en toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die Jordaan kom en hulle voetsole die grond aan die kant raak, het die rivier se waters weer op hulle ou plek begin loop. Soos tevore het hy weer al sy oewers oorstroom.

19. Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan in Gilgal, oos van Jerigo.

20. Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan saamgebring het, in Gilgal opgestel

21. en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag hulle pa's vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’

22. moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan.

23. Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurgaan, net soos Hy met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan.

24. Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.

Lees volledige hoofstuk Josua 4