Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 17:8-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Die Tappuagstreek het aan Manasse behoort, maar Tappuag self, op die grens van Manasse, het behoort aan die mense van Efraim.

9. Van Tappuag af loop die grens af na Kanaspruit toe. Suid van die spruit lê stede van Efraim tussen dié van Manasse. Manasse se grens is noord van die spruit en dit loop dood aan die see.

10. Efraim was aan die suidekant en Manasse aan die noordekant. Die gebied van Manasse loop tot teen die see, en grens noord aan Aser en oos aan Issaskar.

11. In Issaskar en Aser self het Bet-San, Jibleam, Dor op die bergrug, En-Dor, Taänak en Megiddo met hulle buitedorpe ook nog aan Manasse behoort.

12. Die mense van Manasse kon egter nie dié stede verower nie, en die Kanaäniete het dié gebied bly bewoon.

13. Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen, maar nie die stede ingeneem nie.

14. Die nakomelinge van Josef het met Josua gaan praat: “Waarom loot u vir ons net een keer en gee u ons net een deel? Ons is baie mense, want die Here het ons besonderlik geseën.”

15. Josua het vir hulle gesê: “Julle is baie. Gaan maak vir julle 'n stuk boswêreld skoon in die gebied van die Feresiete en die Refaïete. Die Efraimsberge is te klein vir julle.”

16. Hulle het vir Josua gesê: “Die Bergland is nie groot genoeg vir ons nie, en al die Kanaäniete wat in die laagte woon, het ysterstrydwaens, dié in Bet-San en sy buiteposte, en dié in die Jisreëlvlakte.”

17. Daarom het Josua vir die nageslag van Josef, vir Efraim en Manasse, gesê: “Julle is baie mense en julle is sterk. Julle kry dus nie net een deel nie.

18. Die Bergland is julle s'n. Dit is bebos, maar julle kan dit skoonmaak en dit ten volle benut. Die Kanaäniete het wel ysterstrydwaens en hulle is sterk, maar julle sal hulle uitdryf.”

Lees volledige hoofstuk Josua 17