Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 8:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daardie tyd, sê die Here, sal hulle die bene van die konings van Juda en dié van die land se amptenare, die priesters, die profete en die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte haal

2. en uitsprei voor die son, die maan en al die ander hemelliggame vir wie hulle lief was en gedien het, agter wie hulle aangeloop het, vir wie hulle geraadpleeg het en voor wie hulle gebuig het. Die bene sal nie weer bymekaargemaak en begrawe word nie; soos mis sal hulle bo-op die grond bly lê.

3. Vir die res, vir almal wat daar miskien nog oor is, wat oorgebly het van hierdie slegte geslag in al die plekke waarheen Ek hulle verdryf het, sal die dood verkiesliker wees as die lewe, sê die Here die Almagtige.

4. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here: Sal iemand val en nie opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?

5. Waarom draai hierdie volk weg van My af, en waarom hou Jerusalem aan om van My af weg te draai? Hulle hou vol met hulle bedrog, hulle weier om na My toe terug te draai.

6. Ek het goed geluister en Ek het gehoor dat hulle nie die waarheid praat nie, niemand het berou oor sy sonde nie, niemand sê: “Wat het ek tog gedoen!” nie. Elkeen breek met vaart van My af weg soos 'n perd uit 'n geveg wegstorm.

7. Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op 'n vaste tyd terug, maar my volk wil nie weet wat die Here vir hulle vasgestel het nie.

8. Hoe kan julle sê: “Ons het wysheid, ons het die wet van die Here by ons”?Dié wat die wet neerskryf, pleeg bedrog, hulle vervals die wet!

9. Die wyse mense staan verslae, hulle is verbyster, in hulle eie net gevang. Hulle het die woord van die Here verwerp, en wat baat hulle wysheid hulle nou?

Lees volledige hoofstuk Jeremia 8