Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 46:16-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Hulle bly struikel, hulle val oor mekaar,en hulle sê: “Staan op, kom ons gaan terug na ons mense toe,na die land toe waar ons gebore is,weg van die swaard af wat so wild te kere gaan!”

17. Hulle skree: “Daar is die farao, die koning van Egipte,die grootprater wat sy kanse verspeel het!”

18. So seker as Ek leef, sê die Koningwie se Naam die Here die Almagtige is:Daar kom iemand wat so magtig issoos Tabor onder die berge,soos Karmel aan die see.

19. Pak julle bondels vir die ballingskap,inwoners van Egipte!Memfis gaan 'n verlate stad word,verwoes en sonder inwoners.

20. Egipte is 'n pragtige jong vers,maar daar kom 'n blindevlieg uit die noorde.

21. Die huurtroepe in Egipteis soos vetgemaakte kalwers,maar hulle sal almal omdraai en vlug,hulle sal nie bly staan nie,want die dag kom wanneer 'n ramp hulle tref,die tyd wanneer daar met hulle afgereken sal word.

22. Egipte sal sis soos 'n slang en padgeewanneer die vyand se leërmag aankom,wanneer hulle soos houtkappers met byle na Egipte toe aankom.

23. Hulle gaan sy bos afkap, sê die Here,al is die bos hoe dig.Die leër van die vyand is groter as 'n sprinkaanswerm,die soldate kan nie getel word nie.

24. Daar wag 'n neerlaag vir Egipte,hy word oorgegee in die mag van die volk uit die noorde.

25. Die Here die Almagtige, die God van Israel, het gesê: Ek gaan afreken met Amon die god van No, met die farao, met Egipte en met sy gode en sy konings, en met almal wat op hom steun.

26. Ek gee hom oor in die mag van dié wat hom wil vernietig, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy onderhoriges. Maar daarna sal Egipte weer bewoon word soos vroeër tye, sê die Here.

27. Maar jy, my dienaar Jakob, moenie bang wees nie!Moenie bekommerd wees nie, Israel!Ek gaan jou red uit daardie ver land,Ek gaan jou nageslag reduit die land waar hulle ballinge is.Jakob sal weer veiligheid en rus geniet,en niemand sal hom bedreig nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 46