Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 38:9-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. “U Majesteit die Koning, die mense het die profeet Jeremia sleg behandel: hulle het hom in 'n put gegooi en hy sal daar van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie.”

10. Die koning het toe die Kussiet Ebed-Melek beveel: “Vat drie man van hier af saam en trek die profeet Jeremia op uit die put voordat hy sterf.”

11. Ebed-Melek het toe drie man saamgevat en hy is na die paleis se klerekas toe waar hy stukke klere, vodde, gevat het. Hy het dit na Jeremia toe in die put laat afsak met toue

12. en vir hom gesê: “Sit die stukkende klere, die vodde, onder jou armholtes onder die toue.”Jeremia het dit gedoen

13. en hulle het hom met die toue uit die put getrek. Daarna het hy in die binneplaas van die paleiswag gebly.

14. Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe laat haal. Die koning het by die derde ingang van die huis van die Here gesit en vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra, maar jy moet my die waarheid vertel.”

15. Maar Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.”

16. Sedekia het toe in die geheim 'n eed afgelê en vir Jeremia gesê: “So seker as die Here leef, Hy wat die lewe aan ons gee, ek sal jou nie doodmaak nie en ek sal jou ook nie uitlewer aan die mense wat jou wil doodmaak nie.”

17. Jeremia het vir Sedekia gesê: “So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: As jy uitgaan na die koning van Babel se offisiere toe, sal jy jou lewe red en hierdie stad sal nie verbrand word nie. Jy en jou familie sal bly lewe.

18. Maar as jy nie na die koning van Babel se offisiere toe uitgaan nie, sal hierdie stad oorgegee word in die mag van die Galdeërs en hulle sal dit verbrand. Dan sal jy nie uit hulle mag vrykom nie.”

19. Koning Sedekia het vir Jeremia geantwoord: “Ek is bang vir ons volksgenote wat na die Galdeërs toe oorgeloop het. Die Galdeërs kan my dalk aan daardie volksgenote uitlewer, en hulle kan my dalk aanrand.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 38