Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:8-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Baruk seun van Nerija het toe alles gedoen wat die profeet Jeremia hom beveel het: hy het die boek met die woorde van die Here in die huis van die Here gaan lees.

9. In die negende maand van die vyfde jaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, is 'n vasdag in die teenwoordigheid van die Here vir die hele volk in Jerusalem aangekondig. Die hele volk het uit die stede van Juda in Jerusalem gekom.

10. Baruk het toe die boek met die woorde van Jeremia begin lees in die huis van die Here, in die sykamer van Gemarja seun van die staatsekretaris Safan. Die hele volk kon dit hoor. Die sykamer was in die boonste voorhof by die ingang van die nuwe poort van die huis van die Here.

11. Toe Miga seun van Gemarja, seun van Safan, al die woorde van die Here hoor uit die boek,

12. het Miga na die staatsekretaris se kantoor in die paleis toe gegaan. Al die amptenare, Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en al die ander amptenare het daar gesit.

13. Miga het vir hulle alles vertel wat hy Baruk vir die volk uit die boek hoor lees het.

14. Toe stuur al die amptenare vir Jehudi seun van Netanja, seun van Selemja, seun van Kusi na Baruk toe om vir hom te sê: “Vat die boekrol waaruit jy vir die volk gelees het en kom hier.” Baruk seun van Nerija het toe die boekrol gevat en na hulle toe gegaan.

15. Hulle het vir hom gesê: “Sit, en lees dit vir ons.”Baruk het dit toe vir hulle gelees.

16. Toe hulle alles hoor, het hulle bang geword en vir Baruk gesê: “Ons moet dit alles vir die koning gaan vertel.”

17. Hulle het vir Baruk gevra: “Sê vir ons, hoe het jy dit alles geskryf? Het Jeremia dit gedikteer?”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36