Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:22-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Dit was winter en die koning het in die sonkamer gesit met 'n bak gloeiende kole voor hom.

23. Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met 'n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi. Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was.

24. Die koning en al sy amptenare wat hierdie dinge gehoor het, het nie bang geword en hulle klere geskeur nie.

25. Selfs toe Elnatan en Delaja en Gemarja by die koning daarop aangedring het om nie die boekrol te verbrand nie, het hy nie na hulle geluister nie.

26. Toe beveel hy sy seun Jeragmeël en vir Seraja seun van Asriël en vir Selemja seun van Abdeël om die skrywer Baruk en die profeet Jeremia te arresteer. Maar die Here het hulle weggesteek.

27. Nadat die koning die boekrol verbrand het met alles daarop wat Jeremia vir Baruk gedikteer het om te skryf, het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

28. Vat vir jou 'n ander boekrol en skryf daarop al die woorde van die vorige rol wat deur koning Jojakim van Juda verbrand is.

29. Jy moet vir koning Jojakim van Juda sê: So sê die Here: Jy het die boekrol verbrand en gevra: “Waarom het Jeremia daarop geskryf die koning van Babel sal kom en hierdie land verwoes en sy mense en diere in ballingskap wegvat?”

30. Daarom, so sê die Here oor koning Jojakim van Juda, sal sy nageslag nie op die troon van Dawid sit nie. Jojakim se lyk sal weggegooi word en oordag in die son lê en snags in die koue.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36