Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:14-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Toe stuur al die amptenare vir Jehudi seun van Netanja, seun van Selemja, seun van Kusi na Baruk toe om vir hom te sê: “Vat die boekrol waaruit jy vir die volk gelees het en kom hier.” Baruk seun van Nerija het toe die boekrol gevat en na hulle toe gegaan.

15. Hulle het vir hom gesê: “Sit, en lees dit vir ons.”Baruk het dit toe vir hulle gelees.

16. Toe hulle alles hoor, het hulle bang geword en vir Baruk gesê: “Ons moet dit alles vir die koning gaan vertel.”

17. Hulle het vir Baruk gevra: “Sê vir ons, hoe het jy dit alles geskryf? Het Jeremia dit gedikteer?”

18. Baruk het hulle geantwoord: “Alles is vir my gedikteer en ek het dit met ink op die boekrol geskryf.”

19. Die amptenare het vir Baruk gesê: “Gaan kruip weg, jy en Jeremia, en niemand moet weet waar julle is nie.”

20. Die amptenare het die boekrol in die kantoor van die staatsekretaris Elisama gebêre en toe is hulle na die koning toe in die voorhof. Hulle het hom alles vertel.

21. Toe stuur die koning vir Jehudi om die boekrol te gaan haal. Hy het dit uit die kantoor van die staatsekretaris Elisama gaan haal en vir die koning gelees in die teenwoordigheid van al die amptenare wat by die koning aan diens was.

22. Dit was winter en die koning het in die sonkamer gesit met 'n bak gloeiende kole voor hom.

23. Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met 'n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi. Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was.

24. Die koning en al sy amptenare wat hierdie dinge gehoor het, het nie bang geword en hulle klere geskeur nie.

25. Selfs toe Elnatan en Delaja en Gemarja by die koning daarop aangedring het om nie die boekrol te verbrand nie, het hy nie na hulle geluister nie.

26. Toe beveel hy sy seun Jeragmeël en vir Seraja seun van Asriël en vir Selemja seun van Abdeël om die skrywer Baruk en die profeet Jeremia te arresteer. Maar die Here het hulle weggesteek.

27. Nadat die koning die boekrol verbrand het met alles daarop wat Jeremia vir Baruk gedikteer het om te skryf, het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

28. Vat vir jou 'n ander boekrol en skryf daarop al die woorde van die vorige rol wat deur koning Jojakim van Juda verbrand is.

29. Jy moet vir koning Jojakim van Juda sê: So sê die Here: Jy het die boekrol verbrand en gevra: “Waarom het Jeremia daarop geskryf die koning van Babel sal kom en hierdie land verwoes en sy mense en diere in ballingskap wegvat?”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36