Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 35:14-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Jonadab seun van Rekab het sy kinders beveel om nie wyn te drink nie, en tot nou toe drink hulle dit nie, want hulle hou hulle aan sy woorde, hulle is gehoorsaam aan die bevel van hulle voorvader. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle luister nie na My nie.

15. Ek het vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur om te sê: “Elkeen van julle moet hom van sy verkeerde dade bekeer. Julle mag nie agter ander gode aanloop en hulle dien nie. Julle moet goed doen sodat julle kan bly woon in die land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het.” Maar julle het nie aandag gegee of na My geluister nie.

16. Die nageslag van Jonadab seun van Rekab het hulle gehou aan die bevel wat hulle voorvader hulle gegee het, maar hierdie volk het nie na My geluister nie.

17. So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: Ek laat kom oor Juda en oor al die inwoners van Jerusalem al die rampe wat Ek oor hulle aangekondig het. Ek het met hulle gepraat, maar hulle het nie geluister nie, Ek het hulle geroep, maar hulle het nie geantwoord nie.

18. Jeremia het toe vir die Rekabiete gesê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle het die bevel van julle voorvader Jonadab gehoorsaam en julle gehou aan sy bevele, julle het alles gedoen wat hy julle beveel het.

19. Daarom, sê die Here die Almagtige, die God van Israel, sal daar altyd iemand wees uit die familie van Jonadab seun van Rekab om My te dien.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 35