Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33:16-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons.

17. So sê die Here: Iemand uit die huis van Dawid sal altyd op die troon van Israel sit,

18. en daar sal altyd Levitiese priesters wees om offers te bring: brandoffers en graanoffers.

19. Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:

20. So sê die Here: As jy die verbond wat Ek met die dag en die nag gesluit het, kan verbreek sodat dag en nag nie meer op die regte tyd kom nie,

21. sal die verbond verbreek word wat Ek met my dienaar Dawid gesluit het dat daar altyd vir hom 'n nageslag sal wees om as koning op Dawid se troon te heers. Dit geld ook die verbond wat Ek gesluit het met die Levitiese priesters wat in my diens is.

22. Ek sal die nageslag van my dienaar Dawid en dié van die Leviete wat in my diens is, so baie maak soos die sterre wat nie getel kan word nie, en soos die sand van die see waarvan die hoeveelheid nie bereken kan word nie.

23. Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:

24. Het julle agtergekom dat daar mense is wat sê: “Die Here het die twee stamme Juda en Levi wat Hy gekies het, verwerp”? Hierdie mense minag my volk en beskou hom nie meer as 'n volk nie.

25. Maar so sê die Here: As Ek nie my verbond met die dag en die nag nakom nie en my voorskrifte vir die hemel en die aarde nie handhaaf nie,

26. sal Ek die nageslag van Jakob en die nageslag van my dienaar Dawid verwerp en nie meer een uit sy nageslag vat om te regeer oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie. Ek sal hulle lot verander en medelye met hulle hê.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 33