Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here.

10. So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring.

11. Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

12. Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.

13. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.

14. Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. Ek sal julle bymekaarmaak tussen al die nasies uit en van al die plekke af waarheen Ek julle verstrooi het, sê die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek toe waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.

15. Julle sou kon sê: “Nee, die Here het vir ons profete in Babel gegee,”

16. maar so sê die Here oor die koning wat nou op die troon van Dawid sit en oor die hele volk wat in hierdie stad woon, julle volksgenote wat nie saam met julle in ballingskap weggevoer is nie,

17. ja, so sê die Here die Almagtige: Ek laat oorlog, hongersnood en pes onder hulle los en Ek maak hulle soos oopgebarste vye wat so sleg is dat 'n mens dit nie kan eet nie.

18. Ek sal die volk agtervolg met oorlog en met hongersnood en met pes. Ek maak hulle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik: onder al die nasies waaronder Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, wil beledig of wil verneder.

19. Hulle het nie na my waarskuwings geluister toe Ek my dienaars die profete vroeg en laat na hulle toe gestuur het nie, sê die Here. Julle ballinge het ook nie geluister nie, sê die Here.

20. Hoor die woord van die Here, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel toe weggestuur het!

21. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel, vir Agab seun van Kolaja en vir Sedekia seun van Maäseja wat sonder opdrag in my Naam as julle profete optree: Ek sal hulle oorgee in die mag van koning Nebukadnesar van Babel, en hy sal hulle voor julle oë om die lewe bring.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29