Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25:5-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Hy het gesê: Julle moet julle bekeer van julle slegte lewe en van julle verkeerde dade. Dan sal julle bly woon in die land wat die Here lank gelede al vir altyd aan julle en julle voorvaders gegee het.

6. Julle mag nie ander gode aanhang, dien en vereer nie. Julle mag My nie tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het nie, want dan sal Ek rampe oor julle bring.

7. Maar julle het nie na My geluister nie, sê die Here. Julle het My bly tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het, en so het julle 'n ramp oor julleself gebring.

8. So sê die Here die Almagtige: Omdat julle nie geluister het na wat Ek gesê het nie,

9. vat Ek al die volke van die noorde, sê die Here, en Ek stuur hulle en my dienaar koning Nebukadnesar van Babel en Ek laat hulle optrek teen hierdie land en sy inwoners en teen al die nasies van die omgewing. Ek sal hulle uitroei en Ek sal hulle name vir altyd laat gebruik wanneer mense ander wil bang maak, wil skrikmaak of wil vervloek. Hulle lande sal vir altyd puinhope wees.

10. Ek sal blydskap en vreugde van hulle af wegvat: die huweliksfeeste, die klank van die maalklippe en die lig van die lampe.

11. Hierdie land sal 'n verlate puinhoop word en al hierdie nasies sal sewentig jaar lank die koning van Babel se onderdane wees.

12. Maar wanneer die sewentig jaar om is, sal Ek die koning van Babel en daardie nasie in Galdeërland straf vir al hulle sondes, sê die Here. Ek sal hulle land vir altyd verwoes laat lê.

13. Dan sal Ek alles wat Ek teen daardie land gesê het, alles wat in hierdie boek opgeteken staan en wat Jeremia as profeet teen daardie nasies aangekondig het, oor daardie land bring.

14. Daardie nasies sal die onderdane word van baie nasies en van sterk konings. Ek sal hulle straf ooreenkomstig hulle dade en ooreenkomstig die afgodsbeelde wat hulle gemaak het.

15. So het die Here die God van Israel vir my gesê: Vat hierdie beker uit my hand. Dit is gevul met die wyn van my toorn. Jy moet al die nasies na wie toe Ek jou stuur, daaruit laat drink.

16. Wanneer hulle dit drink, sal hulle waggel en slinger: dit is oorlog wat Ek onder hulle loslaat.

17. Ek het die beker uit die hand van die Here gevat en al die nasies na wie toe Hy my gestuur het, laat drink

18. om hulle te verwoes en om hulle name dan te laat gebruik wanneer mense ander wil bang maak, wil skrikmaak of wil vervloek: Jerusalem, die stede van Juda, sy konings en sy amptenare;

19. die farao van Egipte, sy onderdane, sy amptenare, sy volk

20. en die gemengde bevolking in Egipte; al die konings van Us, al dié van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het;

21. Edom, Moab en die Ammoniete,

Lees volledige hoofstuk Jeremia 25