Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, dit was die eerste regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel, het daar 'n woord tot Jeremia gekom teen die hele volk Juda.

2. Die profeet Jeremia het toe vir die hele volk Juda en vir al die inwoners van Jerusalem gesê:

3. Van die dertiende jaar van koning Josia van Juda, seun van Amon, af tot nou toe, drie en twintig jaar lank, het die woord van die Here tot my gekom. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie.

4. Die Here het vroeg en laat sy dienaars die profete na julle toe gestuur, maar julle het nie geluister nie, julle het nie eers probeer luister nie.

5. Hy het gesê: Julle moet julle bekeer van julle slegte lewe en van julle verkeerde dade. Dan sal julle bly woon in die land wat die Here lank gelede al vir altyd aan julle en julle voorvaders gegee het.

6. Julle mag nie ander gode aanhang, dien en vereer nie. Julle mag My nie tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het nie, want dan sal Ek rampe oor julle bring.

7. Maar julle het nie na My geluister nie, sê die Here. Julle het My bly tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het, en so het julle 'n ramp oor julleself gebring.

8. So sê die Here die Almagtige: Omdat julle nie geluister het na wat Ek gesê het nie,

9. vat Ek al die volke van die noorde, sê die Here, en Ek stuur hulle en my dienaar koning Nebukadnesar van Babel en Ek laat hulle optrek teen hierdie land en sy inwoners en teen al die nasies van die omgewing. Ek sal hulle uitroei en Ek sal hulle name vir altyd laat gebruik wanneer mense ander wil bang maak, wil skrikmaak of wil vervloek. Hulle lande sal vir altyd puinhope wees.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 25