Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 23:32-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

32. Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat drome wat nie plaasgevind het nie, as openbaring oorvertel, want hulle lei my volk op 'n dwaalspoor met hulle leuens en hulle praatjies. Ek het nie hierdie profete gestuur nie, Ek het hulle ook nie beveel om as profete op te tree nie. Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here.

33. Jeremia, wanneer die volk of 'n profeet of 'n priester vir jou vra: “Wat is die uitspraak van die Here?” moet jy vir hulle vra: “Wat is die uitspraak?” Die Here sê: Ek steur My nie meer aan julle nie.

34. Die profeet of die priester of die volk wat sê: “Die uitspraak van die Here,” moet weet Ek sal hom en sy familie straf.

35. Julle vra vir mekaar, elkeen vir sy volksgenoot: “Wat antwoord die Here?” of: “Wat sê die Here?”

36. Julle moenie meer verwys na die uitspraak van die Here nie, want elkeen maak sy eie woorde tot uitspraak van die Here. So verdraai julle die woorde van ons God, die Here die Almagtige, die lewende God.

37. Julle vra vir die profeet: “Wat antwoord die Here jou?” of: “Wat sê die Here?”

38. Al sê julle ook: “Dit is die uitspraak van die Here,” sê die Here nou: Julle sê: “Hierdie woorde is 'n uitspraak van die Here,” ten spyte daarvan dat Ek julle verbied het om te sê: “'n Uitspraak van die Here.”

39. Daarom sal Ek julle heeltemal vergeet, Ek sal My nie meer aan julle steur nie, en ook nie aan die stad wat Ek aan julle en julle voorvaders gegee het nie. Ek wil julle nie meer sien nie.

40. Ek sal vir altyd vernedering oor julle bring, blywende skande wat nie vergeet sal word nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 23