Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 23:23-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Ek is nie 'n God wat net naby is nie, sê die Here,Ek is 'n God wat ook ver weg is.

24. Niemand kan in 'n geheime plek wegkruipsonder dat Ek hom sien nie, sê die Here.Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.

25. Ek het gehoor wat sê die profete wat sonder opdrag in my Naam as profete optree. Hulle sê: “Ek het 'n droom gehad, ek het 'n droom gehad!”

26. Hoe lank sal die profete wat sonder opdrag optree, die profete wat leuens uitdink om te verkondig, nog aanhou hiermee?

27. Hulle dink hulle sal my volk my Naam laat vergeet met die drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle voorvaders my Naam deur die Baäl vergeet het.

28. Die profeet wat 'n droom gehad het, mag vertel wat hy gedroom het, maar hy wat my woord ontvang het, moet my woord eerlik oordra. 'n Mens kan nie strooi met die beste koring vergelyk nie, sê die Here.

29. My woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.

30. Daarom, sê die Here, is Ek teen die profete wat herhaal wat ander sê en dan voorgee dat dit van My af kom.

31. Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat hulle eie stories vertel en dan sê: “Die Here sê so.”

32. Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat drome wat nie plaasgevind het nie, as openbaring oorvertel, want hulle lei my volk op 'n dwaalspoor met hulle leuens en hulle praatjies. Ek het nie hierdie profete gestuur nie, Ek het hulle ook nie beveel om as profete op te tree nie. Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here.

33. Jeremia, wanneer die volk of 'n profeet of 'n priester vir jou vra: “Wat is die uitspraak van die Here?” moet jy vir hulle vra: “Wat is die uitspraak?” Die Here sê: Ek steur My nie meer aan julle nie.

34. Die profeet of die priester of die volk wat sê: “Die uitspraak van die Here,” moet weet Ek sal hom en sy familie straf.

35. Julle vra vir mekaar, elkeen vir sy volksgenoot: “Wat antwoord die Here?” of: “Wat sê die Here?”

36. Julle moenie meer verwys na die uitspraak van die Here nie, want elkeen maak sy eie woorde tot uitspraak van die Here. So verdraai julle die woorde van ons God, die Here die Almagtige, die lewende God.

37. Julle vra vir die profeet: “Wat antwoord die Here jou?” of: “Wat sê die Here?”

38. Al sê julle ook: “Dit is die uitspraak van die Here,” sê die Here nou: Julle sê: “Hierdie woorde is 'n uitspraak van die Here,” ten spyte daarvan dat Ek julle verbied het om te sê: “'n Uitspraak van die Here.”

39. Daarom sal Ek julle heeltemal vergeet, Ek sal My nie meer aan julle steur nie, en ook nie aan die stad wat Ek aan julle en julle voorvaders gegee het nie. Ek wil julle nie meer sien nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 23