Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 14:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die woord van die Here het tot Jeremia gekom oor die groot droogte:

2. Juda verdor, sy stede versmag, sy mense sit in rouklere op die grond, die hulpgeroep van Jerusalem weerklink.

3. Die vername mense stuur hulle slawe om water te gaan haal. Dié kom by die putte, maar kry geen water nie; hulle bring hulle kruike leeg terug. Hulle is verslae en verleë, hulle koppe hang.

4. In die hele land het daar geen reën geval nie. Omdat die grond niks oplewer nie, is die boere moedeloos, hulle koppe hang.

5. Die takbok lam in die veld en gooi haar lam weg omdat daar nie gras is nie.

6. Wildedonkies staan op die kaal heuwels en snuif die wind net soos jakkalse; hulle oë raak dof, want daar is nie meer gras nie.

7. As ons sondes teen ons getuig, Here,tree tog op ter wille van u Naam.Ons het so baie keer van U af weggedraai,ons het teen U gesondig.

8. Hoop van Israel, Redder in tyd van nood,waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land,soos 'n reisiger wat net 'n nag oorbly?

9. Waarom sou U wees soos 'n man wat verskrik staan,soos 'n soldaat wat nie in staat is om te help nie?U is by ons, Here, ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie!

10. So sê die Here vir hierdie volk: Hulle is lief om van My af weg te dwaal, hulle het hulle nie daarvan weerhou nie. Daarom is Ek, die Here, hulle nie meer goedgesind nie. Ek sal hulle nou hulle sonde toereken en rekenskap van hulle eis vir hulle oortredings.

11. Die Here het vir my gesê: Moenie by My vir hierdie volk voorspraak doen nie.

12. Wanneer hulle vas, sal Ek nie na hulle gesmeek luister nie; as hulle brandoffers en graanoffers bring, maak dit die volk nie vir My aanvaarbaar nie, want Ek sal met oorlog, met hongersnood en met pes 'n einde aan hulle maak.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 14