Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 13:6-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Na 'n lang ruk het die Here vir my gesê: Gaan nou na die Eufraat toe en gaan haal die gordel wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.

7. Ek het toe na die Eufraat toe gegaan, daar gegrawe en die gordel uitgehaal uit die plek waar ek hom weggesteek het. Maar die gordel het begin vergaan en was nutteloos.

8. Toe kom die woord van die Here tot my.

9. So het die Here gesê: So sal Ek die groot hoogmoed van Juda en Jerusalem laat vergaan.

10. Hierdie slegte volk wat weier om na my woord te luister, wat hulle eie harde koppe volg en agter ander gode aanloop en hulle dien en vereer, sal net so nutteloos word soos hierdie gordel.

11. Soos 'n gordel stewig vas is om die lyf van 'n man, so het Ek al die mense van Israel en Juda aan My vasgemaak, sê die Here. Hulle moes my volk wees, hulle moes lewe tot my roem en eer en 'n sieraad vir My wees, maar hulle het nie geluister nie.

12. Sê vir hulle dit: So sê die Here die God van Israel: Elke kan moet vol wyn gemaak word. Dan sal hulle vir jou sê: “Weet ons dan nie dat elke kan vol wyn gemaak moet word nie?”

13. Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here: Ek gaan al die inwoners van hierdie land dronk maak, ook die konings wat op die troon van Dawid sit en die priesters en die profete, ja, al die inwoners van Jerusalem.

14. Ek sal hulle teen mekaar verpletter, vaders en kinders saam, sê die Here. Ek sal niemand spaar of verskoon nie, sonder ontferming sal Ek hulle uitroei.

15. Luister, gee aandag! Moenie so hoogmoedig wees nie: die Here het gepraat!

16. Eer die Here julle God voordat dit donker word,voordat julle julle in die skemer vasloop teen die berge.Julle sal wag op lig, maar Hy sal duisternis bring,Hy sal dit stikdonker laat word.

17. Maar as julle nie luister nie, sal Ek in stilte huil oor julle hoogmoed, Ek sal huil en huil, trane stort omdat my kudde as ballinge weggevoer word.

18. Sê vir die koning en vir die koninginmoeder: Klim van die troon af, want julle sal nie meer julle sierlike krone dra nie.

19. Die stede in die Suidland is beleër, niemand kan hulle ontset nie; die hele Juda word in ballingskap weggevoer, hulle moet almal weg.

20. Kyk op, Jerusalem, kyk hoe kom hulle van die noorde af! Waar is die kudde wat aan jou toevertrou is, die kleinvee wat jou trots was?

Lees volledige hoofstuk Jeremia 13