Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 13:18-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Sê vir die koning en vir die koninginmoeder: Klim van die troon af, want julle sal nie meer julle sierlike krone dra nie.

19. Die stede in die Suidland is beleër, niemand kan hulle ontset nie; die hele Juda word in ballingskap weggevoer, hulle moet almal weg.

20. Kyk op, Jerusalem, kyk hoe kom hulle van die noorde af! Waar is die kudde wat aan jou toevertrou is, die kleinvee wat jou trots was?

21. Wat sal jy sê as Ek mense oor jou aanstel wat jy geleer het, as mense wat jy as bondgenote beskou het, oor jou regeer? Sal dit nie vir jou net so pynlik wees soos vir 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring nie?

22. Jy vra jou af: “Waarom het dit my oorgekom?”Jy word kaal uitgetrek en verkrag oor jou baie oortredings.

23. Kan 'n Kussiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Sou julle kon doen wat goed is, julle wat so gewoond is aan die kwaad?

24. Ek sal julle verstrooi soos kaf wat verbywaai in die woestynwind.

25. Dit is jou lot, jou deel wat Ek vir jou afgemeet het, sê die Here, vir jou wat My vergeet het, wat op leuens vertrou het.

26. Ook Ek sal jou kaal uittrek, sodat jou skandelike naaktheid bekend word,

27. jou owerspel, jou wellus, jou skandelike hoerery. Op die heuwels, in die oop veld het Ek jou afskuwelike dade gesien. Ellende wag vir jou, Jerusalem, as jy jou nie reinig nie! Hoe lank gaan dit nog so bly?

Lees volledige hoofstuk Jeremia 13