Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 48:9-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Josef het sy pa geantwoord: “Dit is my seuns. God het hulle vir my in hierdie land gegee.”Jakob sê toe: “Bring hulle hier na my toe. Ek wil hulle seën.”

10. In sy hoë ouderdom was Israel se oë al sleg en hy kon nie goed sien nie. Josef het sy seuns tot teen Israel gebring, en hy het hulle gesoen en teen hom vasgedruk.

11. Toe sê Israel vir Josef: “Ek het nooit daaraan gedink dat ek jou weer sal sien nie, en hier laat God my nou ook nog jou kinders sien.”

12. Josef het sy seuns van sy pa se skoot af getel en voor hom gebuig.

13. Toe vat Josef die twee aan die hand: Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel. Maar toe Josef hulle naby hom bring,

14. het Israel sy arms gekruis en sy regterhand op Efraim se kop gesit al was hy die jongste, en sy linkerhand op Manasse s'n al was hy die oudste.

15. Hy het vir Josef geseën en gesê:“Mag die God naby wiemy voorvaders Abraham en Isak geleef het,die God wat vir my van my geboorte af tot nou toe gesorg het,

16. die Engel wat my uit elke moontlike gevaar gered het,mag Hy die seuns seën.Dan sal my naam voortleef in hulle,en ook dié van my voorvaders Abraham en Isak.Mag die seuns vermeerder en baie word in daardie land.”

17. Toe Josef sien sy pa sit sy regterhand op Efraim se kop, het Josef gedink dis nie reg nie en toe tel hy Jakob se hand van Efraim se kop af op om die hand op Manasse se kop te sit.

18. Josef het vir sy pa gesê: “Dit hoort nie so nie, Pa! Manasse is die oudste, sit Pa se regterhand op sy kop.”

19. Maar sy pa het geweier en gesê: “Ek weet dit, my seun. Ook hý sal 'n volk word, ook hý sal baie word, maar sy jonger broer sal sterker word as hy, en die jonger broer se nageslag sal 'n magtige nasie word.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 48