Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 45:11-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’

12. Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat.

13. Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”

14. Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil.

15. Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat.

16. Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.”Die farao en sy amptenare het dit goedgevind,

17. en hy het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: So moet julle nou optree: saal julle rydiere op en gaan na Kanaän toe.

18. Kry julle vader en julle gesinne en kom hier na my toe. Ek sal julle die beste deel van Egipte gee en julle sal die room van die land geniet.

19. Jy moet hulle beveel: So moet julle optree: vat vir julle uit Egipte waens saam vir julle kinders en vrouens en laat julle vader op 'n wa ry en kom hierheen.

20. Moenie sleg voel oor wat julle nie kan saambring nie, want julle sal hier die beste kry van wat Egipte het.”

21. Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het waens vir hulle saamgegee soos die farao beveel het. Josef het ook vir hulle padkos saamgegee.

22. Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy vyf stelle nuwe klere en nog drie en 'n half kilogram silwer gegee.

Lees volledige hoofstuk Genesis 45