Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 45:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie.

2. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het.

3. Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom.

4. Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring.

5. Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.

6. Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie.

7. God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom.

8. Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte.

9. Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie,

10. kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit.

11. Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’

12. Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat.

Lees volledige hoofstuk Genesis 45