Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 43:23-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Toe sê die amptenaar vir hulle: “Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie. Julle geld het by my uitgekom, en dit is julle God, die God van julle voorvaders, wat 'n skat in julle sakke gesit het.”Die amptenaar het toe vir Simeon na hulle toe gebring.

24. Nadat die amptenaar hulle in Josef se huis ingebring het, het hy vir hulle water gegee, en hulle het hulle voete gewas. Hy het ook hulle donkies voer gegee.

25. Die broers het hulle geskenk gereed gehou vir wanneer Josef die middag kom, want hulle het gehoor dat hulle daar gaan eet.

26. Toe Josef inkom, bring hulle vir hom die geskenk wat hulle saamgebring het, na die huis toe. Toe buig hulle diep voor hom.

27. Josef het hulle toe gevra hoe dit gaan. Hy het gevra: “Hoe gaan dit met julle pa wat so oud is en van wie julle my vertel het? Leef hy nog?”

28. Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met u onderdaan, ons pa. Hy leef nog.”Hulle het weer voor Josef gebuig en hom so geëer.

29. Toe Josef sy broer, sy ma se seun Benjamin, raaksien, vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?” En Josef sê vir hom: “My seun, God sal jou genadig wees.”

30. Toe het Josef haastig padgegee om eenkant te gaan huil, want sy gemoed was vol oor sy broer. Josef is na sy kamer toe en hy het daar gaan huil.

31. Daarna het hy sy gesig gewas en teruggegaan. Hy was weer homself en hy het gesê: “Bedien die ete.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 43