Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 43:15-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Die manne het toe die geskenk gevat en hulle het die geld wat hulle saamgevat het, verdubbel. Hulle het vir Benjamin gevat en klaargemaak en Egipte toe gegaan. Hulle het by Josef gekom,

16. en toe hy sien Benjamin is by hulle, sê hy vir sy hoofamptenaar: “Vat die manne na my huis toe. Laat slag en laat 'n ete voorberei, want hulle moet vanmiddag by my eet.”

17. Hy het toe gedoen wat Josef gesê het. Hy het die manne na Josef se huis toe gevat,

18. en hulle het bang geword omdat hulle na Josef se huis toe gebring is. Toe sê hulle: “Dit is oor die geld wat die vorige keer in ons graansakke teruggesit is. Ons word hierheen gebring om ons te oorval en te oorrompel en van ons slawe te maak en ons donkies te vat.”

19. By die deur van die huis het hulle die hoofamptenaar genader

20. en vir hom gesê: “Ekskuus, Meneer, ons was al 'n vorige keer hier om kos te koop.

21. En toe ons hier weg is en die aand ons graansakke oopmaak, lê elkeen se geld bo in sy sak. Dit was presies die regte bedrag. Maar ons het dit nou weer saamgebring,

22. en ook nog geld om weer kos te koop. Ons weet nie wie die geld in ons sakke teruggesit het nie.”

23. Toe sê die amptenaar vir hulle: “Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie. Julle geld het by my uitgekom, en dit is julle God, die God van julle voorvaders, wat 'n skat in julle sakke gesit het.”Die amptenaar het toe vir Simeon na hulle toe gebring.

24. Nadat die amptenaar hulle in Josef se huis ingebring het, het hy vir hulle water gegee, en hulle het hulle voete gewas. Hy het ook hulle donkies voer gegee.

25. Die broers het hulle geskenk gereed gehou vir wanneer Josef die middag kom, want hulle het gehoor dat hulle daar gaan eet.

26. Toe Josef inkom, bring hulle vir hom die geskenk wat hulle saamgebring het, na die huis toe. Toe buig hulle diep voor hom.

27. Josef het hulle toe gevra hoe dit gaan. Hy het gevra: “Hoe gaan dit met julle pa wat so oud is en van wie julle my vertel het? Leef hy nog?”

Lees volledige hoofstuk Genesis 43