Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:24-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Die skraal are sluk toe die sewe mooi are in.“Ek het dit vir die waarsêers vertel, maar niemand kon my iets sê nie.”

25. Toe sê Josef vir die farao: “U het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel.

26. “Die sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom.

27. Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood.

28. “Dit is wat ek bedoel het toe ek vir u gesê het dat God u laat sien het wat Hy wil doen.

29. “Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom.

30. Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring.

31. Die hongersnood sal so straf wees dat 'n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie.

32. “Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer.

33. “Ek beveel aan dat u 'n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas van die hele Egipte.

34. Die farao moet dít doen: u moet beamptes vir die hele land aanstel en die land tydens die sewe jaar van oorvloed behoorlik organiseer.

35. Hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is.

36. Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.”

37. Die farao en al sy amptenare het Josef se raad goedgevind.

38. Toe sê die farao vir sy amptenare: “Waar kry ons so iemand, 'n man met die verstand van 'n god?”

39. Die farao het daarop vir Josef gesê: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie.

40. Ek stel jou aan oor my paleis.“My volk moet jou gehoorsaam. Net ek sal meer mag hê as jy.”

41. Die farao het verder nog vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 41