Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:21-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin.“Toe het ek wakker geskrik.

22. “Ek het daarna in 'n droom gesien: sewe mooi vol are het opgeskiet aan een stingel.

23. Ná hulle kom daar toe sewe droë, skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind.

24. Die skraal are sluk toe die sewe mooi are in.“Ek het dit vir die waarsêers vertel, maar niemand kon my iets sê nie.”

25. Toe sê Josef vir die farao: “U het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel.

26. “Die sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom.

27. Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood.

28. “Dit is wat ek bedoel het toe ek vir u gesê het dat God u laat sien het wat Hy wil doen.

29. “Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom.

30. Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring.

31. Die hongersnood sal so straf wees dat 'n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie.

32. “Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer.

33. “Ek beveel aan dat u 'n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas van die hele Egipte.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41