Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 40:11-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Ek het die farao se beker in my hand gehad en ek het die druiwe gepluk en daarin uitgedruk. Toe gee ek die beker vir die farao.”

12. Josef het vir die skinker gesê: “Dit is die uitleg: die drie lote is drie dae.

13. Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee en jou in jou amp herstel. Jy sal weer vir die farao sy beker aangee soos vroeër toe jy sy skinker was.

14. Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my 'n guns bewys. Jy moet my saak vir hom stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom.

15. Ek is uit die land van die Hebreërs gesteel en ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in hierdie gat kon gooi nie.”

16. Toe die hoof van die bakkers die gunstige uitleg hoor wat Josef gegee het, sê hy vir hom: “En nou ek! In my droom was daar drie mandjies met brood op my kop.

17. In die boonste mandjie was daar 'n geurige baksel vir die farao. Maar die voëls het dit so uit die mandjie uit op my kop kom opvreet.”

18. Josef het vir die bakker gesê: “Dit is die uitleg: die drie mandjies is drie dae.

19. Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee, maar vir jóú sal hy aan 'n paal laat ophang en die voëls sal jou vleis van jou afvreet.”

20. Drie dae later was dit die farao se verjaarsdag en hy het al sy amptenare op 'n groot ete onthaal. Daar voor sy amptenare het hy aandag gegee aan die saak van die skinker en die bakker.

21. Hy het die hoof van die skinkers in sy amp as skinker herstel, en die skinker het weer vir die farao sy beker aangegee,

Lees volledige hoofstuk Genesis 40