Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 38:7-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Maar Er, Juda se oudste, was in die oë van die Here 'n slegte man, en die Here het hom laat sterf.

8. Toe sê Juda vir Onan: “Gaan na jou broer se weduwee toe, jou skoonsuster, en trou met haar, en sorg dat daar kinders gebore word vir jou broer.”

9. Onan het geweet dat die kinders wat gebore sou word, nie as syne beskou sou word nie, en daarom het hy elke keer as hy met die weduwee van sy broer gemeenskap gehad het, gesorg dat sy saad op die grond kom. Hy wou nie dat daar kinders vir sy broer gebore word nie.

10. Maar wat Onan gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here, en Hy het ook vir hom laat sterf.

11. Toe sê Juda vir sy skoondogter Tamar: “Gaan terug na jou pa se huis toe en bly daar 'n weduwee totdat my seun Sela groot is.” Maar Juda het eintlik gedink: netnou sterf hý ook soos sy broers.Tamar is toe weg en sy het in haar pa se huis gebly.

12. 'n Lang ruk hierná het Juda se vrou Bat-Sua gesterf. Nadat hy oor haar gerou het, is hy na Timna toe om sy kleinvee te laat skeer. Sy vriend Gira van Adullam is saam.

13. Daar is aan Tamar vertel dat haar skoonpa na Timna toe gaan om sy kleinvee te laat skeer.

14. Ondertussen het sy gemerk dat Sela al groot is, maar dat sy nog nie vir hom as vrou gegee is nie. Sy het toe haar rouklere tuis gelaat, haar gesig met 'n sluier toegemaak, haar vermom en by die poort van Enajim langs die Timnapad gaan sit.

15. Juda het haar gesien en gedink sy is 'n prostituut. Haar gesig was mos toegemaak.

16. Hy het na haar toe uitgedraai en vir haar gesê: “Kom! Ek wil met jou gemeenskap hê!”Hy het nie besef dat dit sy skoondogter is nie.Toe vra sy vir hom: “Wat sal jy my daarvoor betaal?”

17. Hy het geantwoord: “Ek sal vir jou 'n boklam uit my kudde stuur,” maar sy sê: “Dan moet jy my solank 'n pand gee.”

18. Toe vra hy: “Wat se pand kan ek jou gee?”Sy het geantwoord: “Jou seëlring met die ketting en jou kierie.”Hy het dit vir haar gegee en met haar gemeenskap gehad en sy het swanger geword.

19. Sy is toe terug huis toe waar sy haar sluier afgehaal en weer haar rouklere aangetrek het.

Lees volledige hoofstuk Genesis 38