Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:20-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Kom ons maak hom dood en gooi hom in 'n put. Ons kan sê 'n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.”

21. Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie.

22. Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur.

23. Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het,

24. en vat hom en gooi hom in die put. Dit was 'n droë put, sonder water.

25. Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar 'n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.

26. Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou?

27. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.”Juda se broers het na hom geluister,

28. en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

29. Toe Ruben terugkom by die put, was Josef nie daar nie. Ruben het sy klere geskeur

30. en teruggegaan na sy broers toe en vir hulle gesê: “Die kind is weg! Wat moet ek nou doen?”

31. Maar sy broers het 'n boklam geslag en die klere van Josef gevat en in die bloed gedoop.

Lees volledige hoofstuk Genesis 37