Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 35:9-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Nadat Jakob uit Paddan-Aram terug was, het God weer aan hom verskyn en hom geseën.

10. God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.”God het hom toe Israel genoem.

11. God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word 'n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings.

12. Hierdie land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, sal Ek aan jou gee en ná jou gee Ek dit aan jou nageslag.”

13. Toe het God van Jakob af weggegaan, en op die plek waar God met hom gepraat het,

14. het Jakob 'n klip regop gesit, presies op die plek waar die Here met hom gepraat het. Hy het 'n drankoffer daarop uitgegiet en ook olie.

15. Hy het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem.

16. Jakob-hulle het van Bet-El af getrek na Efrata toe. Hulle was nog 'n ent daarvandaan toe bring Ragel 'n kind in die wêreld. Dit was 'n moeilike geboorte.

17. Met dié dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy 'n seun!”

18. Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni. Sy pa het hom egter Benjamin genoem.

19. Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem.

20. Jakob het 'n groot klip op haar graf gesit. Dit is die klip wat nou nog op haar graf is.

Lees volledige hoofstuk Genesis 35