Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31:21-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe.

22. Drie dae later is aan Laban vertel dat Jakob gevlug het.

23. Laban het die mans in sy familie saamgevat en vir Jakob agternagesit. Na sewe dae het Laban hom ingehaal by Gileadberg.

24. Dié nag het God in 'n droom na Laban die Arameër toe gekom en vir hom gesê: “Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê!”

25. Toe Laban by Jakob kom, was sy kamp opgeslaan by Gileadberg, en Laban-hulle het ook daar kamp opgeslaan.

26. Hy het vir Jakob gesê: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en my dogters weggevat asof hulle krygsgevangenes is.

27. Waarom het jy in die geheim gevlug? Jy het my bedrieg en my niks vertel nie. Ek sou jou laat vertrek het met 'n fees en met liedere, met tamboeryne en met liere.

28. Jy het my nie eens toegelaat om my kleinkinders en my dogters te groet nie. Jy het 'n ongehoorde ding gedoen.

29. Ek het die mag om julle kwaad aan te doen, maar die God van jou voorvaders het verlede nag vir my gesê: ‘Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê.’

30. Maar nou, as jy weggetrek het net omdat jy so baie verlang na jou familie, waarom het jy dan my gode gesteel?”

31. Toe sê Jakob vir Laban: “Ek het gevlug, want ek was bang, ek het gedink u sal u dogters van my af wegvat.

32. Maar die een by wie u u gode kry, moet sterf. Kyk hier waar ons familie bystaan wat daar van u by my is en vat dit saam terug.”Jakob het nie geweet dat Ragel die gode gesteel het nie.

33. Laban het niks in Jakob se tent gekry nie, ook nie in dié van Lea en in dié van die twee persoonlike slavinne nie. Laban is toe uit Lea se tent uit na Ragel s'n toe.

34. Ragel het die afgodsbeeldjies gevat en onder die kameelsaal gesit en daarop gaan sit. Laban het haar hele tent behoorlik gefynkam maar niks gekry nie.

35. Toe sê Ragel vir hom: “Pa moet tog nie vir my kwaad word nie, want ek kan nie vir Pa opstaan nie: ek is siek, soos dit maar elke maand met 'n vrou gaan.”Laban het toe verder rondgesoek, maar nie die afgodsbeeldjies gekry nie.

36. Toe word Jakob kwaad en hy verwyt vir Laban: “Wat het ek verkeerd gedoen? Waar het ek oortree dat u my agternagesit het?

Lees volledige hoofstuk Genesis 31