Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:4-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Ragel het vir Bilha aan Jakob gegee as vrou en hy het met haar gemeenskap gehad.

5. Sy het swanger geword en vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring.

6. Toe sê Ragel: “God het in my guns uitspraak gelewer, Hy het my gebed verhoor en vir my 'n seun gegee.” Daarom het sy hom Dan genoem.

7. Bilha die slavin van Ragel het weer swanger geword en 'n tweede seun vir Jakob in die wêreld gebring.

8. Ragel het toe gesê: “Ek was in 'n bitter swaar stryd gewikkel met my suster, maar ek het gewen.”Toe noem sy die seun Naftali.

9. Toe Lea besef sy bring nie meer kinders in die wêreld nie, het sy haar slavin Silpa gevat en vir Jakob gegee as vrou.

10. Sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring,

11. en Lea het gesê: “Nou is ek gelukkig!”Sy het die seun Gad genoem.

12. Daarna het Lea se slavin Silpa 'n tweede seun vir Jakob in die wêreld gebring,

13. en Lea het gesê: “Hoe gelukkig is ek. Die vrouens sal my Die Gelukkige noem!”Toe noem sy die seun Aser.

14. Op 'n keer het Ruben in die oestyd veld toe gegaan en liefdesappels gepluk. Hy het dit vir sy ma Lea gebring. Ragel het vir haar gesê: “Gee vir my van die liefdesappels wat jou seun gebring het.”

15. Toe vra Lea vir haar: “Is jy nie daarmee tevrede dat jy my man gevat het nie? Wil jy nou nog ook die liefdesappels vat wat my seun gebring het?”Daarop het Ragel geantwoord: “In ruil daarvoor mag Jakob vannag by jou slaap.”

16. Toe Jakob die aand van die veld af kom, gaan Lea hom tegemoet en sê vir hom: “Jy moet na my toe kom, want om jou te kry, het ek die volle prys betaal met die liefdesappels wat my seun gebring het.” Daardie nag het Jakob toe by haar geslaap.

17. God het Lea se gebed verhoor, en sy het swanger geword en 'n vyfde seun vir Jakob in die wêreld gebring.

18. Sy het gesê: “God het my 'n loon gegee omdat ek my slavin aan my man gegee het.”Toe noem sy die seun Issaskar.

19. Lea het weer swanger geword en 'n sesde seun vir Jakob in die wêreld gebring.

Lees volledige hoofstuk Genesis 30