Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:10-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring,

11. en Lea het gesê: “Nou is ek gelukkig!”Sy het die seun Gad genoem.

12. Daarna het Lea se slavin Silpa 'n tweede seun vir Jakob in die wêreld gebring,

13. en Lea het gesê: “Hoe gelukkig is ek. Die vrouens sal my Die Gelukkige noem!”Toe noem sy die seun Aser.

14. Op 'n keer het Ruben in die oestyd veld toe gegaan en liefdesappels gepluk. Hy het dit vir sy ma Lea gebring. Ragel het vir haar gesê: “Gee vir my van die liefdesappels wat jou seun gebring het.”

15. Toe vra Lea vir haar: “Is jy nie daarmee tevrede dat jy my man gevat het nie? Wil jy nou nog ook die liefdesappels vat wat my seun gebring het?”Daarop het Ragel geantwoord: “In ruil daarvoor mag Jakob vannag by jou slaap.”

16. Toe Jakob die aand van die veld af kom, gaan Lea hom tegemoet en sê vir hom: “Jy moet na my toe kom, want om jou te kry, het ek die volle prys betaal met die liefdesappels wat my seun gebring het.” Daardie nag het Jakob toe by haar geslaap.

17. God het Lea se gebed verhoor, en sy het swanger geword en 'n vyfde seun vir Jakob in die wêreld gebring.

18. Sy het gesê: “God het my 'n loon gegee omdat ek my slavin aan my man gegee het.”Toe noem sy die seun Issaskar.

19. Lea het weer swanger geword en 'n sesde seun vir Jakob in die wêreld gebring.

20. Toe sê sy: “God het hierdie keer 'n mooi geskenk aan my gegee. Nou sal my man by my bly, want ek het ses seuns vir hom in die wêreld gebring.” Toe noem sy die seun Sebulon.

21. Daarna het sy 'n dogter in die wêreld gebring en haar Dina genoem.

Lees volledige hoofstuk Genesis 30