Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 27:30-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

30. Toe Isak vir Jakob klaar geseën het, en hy nog skaars by sy pa Isak uit was, kom sy broer Esau terug van die jag af.

31. Ook hý het 'n lekker ete voorberei en dit vir sy pa gevat. Esau het vir sy pa gesê: “Sit regop, Pa, en eet van Pa se seun se wildsvleis sodat Pa my dan kan seën.”

32. Toe vra sy pa Isak: “Wie is jy?” en hy antwoord: “Pa se seun Esau, Pa se oudste.”

33. Isak was toe baie ontsteld en hy vra: “Maar wie het dan die wild geskiet en vir my gebring? Ek het daarvan geëet net voor jy gekom het. Ek het hóm geseën, en hy sal geseën bly.”

34. Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: “Pa, seën my tog ook!”

35. Maar Isak sê vir hom: “Jou broer het my kom bedrieg en toe het hy jou seën gevat.”

36. Esau het geantwoord: “Hy word tereg Jakob genoem. Hy het my nou al twee keer bedrieg: hy het my reg as eersgeborene gevat en nou het hy my seën gevat.”Toe vra Esau: “Het Pa nie nog 'n seën vir my ook nie?”

37. Isak het vir hom gesê: “Ek het hom alreeds aangestel om oor jou te heers en ek het sy hele familie vir hom as onderdane gegee. Ek het hom van koring en wyn voorsien. Daar is niks wat ek vir jou kan doen nie, my seun.”

38. Esau het toe vir sy pa gesê: “Pa, het Pa dan net een seën? Seën my tog ook, Pa!”Toe Esau daarna begin huil,

39. sê sy pa Isak vir hom:“Jou woonplek sal ver van die aarde se rykdom af wees,en ook ver van die dou uit die hemel af.

40. Jy sal van oorlog leef en jy sal jou broer dien,maar as jy jou kans afwag, sal jy sy juk van jou nek afgooi.”

41. Esau het vir Jakob gehaat oor die seën wat sy pa aan hom gegee het, en Esau het by homself gesê: “My pa se dood is nie meer ver nie, dan maak ek my broer Jakob dood.”

42. Daar is aan Rebekka vertel wat haar oudste seun gesê het. Sy het toe haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: “Pas op! Jou broer Esau is op wraak uit. Hy wil jou vermoor.

43. Luister, my seun! Vlug Haran toe, na my broer Laban toe,

44. en bly 'n ruk by hom tot jou broer se woede oor is.

45. As sy bui oor jou gesak het en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het, sal ek stuur en jou daarvandaan laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”

Lees volledige hoofstuk Genesis 27