Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 27:10-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Jy moet dit dan vir hom vat dat hy dit kan eet en jou kan seën voor hy sterf.”

11. Toe sê Jakob vir sy ma Rebekka: “Maar my broer Esau is harig en ek is glad.

12. Miskien sal Pa aan my voel en dan dink ek skeer die gek met hom, en so sal ek 'n vervloeking oor my bring en nie 'n seën nie.”

13. Sy ma het vir hom gesê: “As daar 'n vervloeking is, sal dit oor my kom, my seun. Luister jy net na my en loop vang die bokkies vir my.”

14. Hy het die bokkies gaan vang en vir sy ma gebring, en sy het hulle lekker voorberei soos sy pa daarvan hou.

15. Toe vat Rebekka haar oudste seun Esau se beste klere wat sy by haar in die huis gehad het en trek dit vir haar jongste seun Jakob aan.

16. Sy het die bokvelletjies om sy hande en om sy kaal nek vasgemaak

17. en die lekkerny en die kos wat sy voorberei het, vir Jakob gegee.

18. Hy het toe na sy pa toe ingegaan en gesê: “Pa!”Toe sê hy: “Ja, watter seun is jy?”

19. Jakob het sy pa geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste seun. Ek het gedoen wat Pa gesê het. Kom sit nou regop en eet van my wildsvleis sodat Pa my dan kan seën.”

20. Maar Isak het vir hom gevra: “Hoe het jy dan die wild so gou gekry, my seun?” en Jakob het geantwoord: “Die Here u God het my dit laat raakloop.”

21. Toe sê Isak vir Jakob: “Kom nader dat ek aan jou kan voel, my seun, of jy my seun Esau is of nie.”

22. Jakob het nader gegaan na sy pa Isak toe, en toe hy aan hom voel, sê hy: “Die stem, dis Jakob se stem, maar die hande, dis Esau se hande.”

23. Isak het nie vir Jakob herken nie, want sy hande was harig soos sy broer Esau s'n. Isak het toe vir Jakob geseën.

24. Isak het vir hom gesê: “Jy is tog my seun Esau!” en Jakob het gesê: “Ek is.”

25. Toe sê Isak: “Gee die wild aan dat ek daarvan kan eet, my seun, en jou dan kan seën.”Hy het dit vir hom aangegee en Isak het geëet, en Jakob het vir hom wyn gebring, en hy het dit gedrink.

26. Isak het vir hom gesê: “Kom nader en soen my, my seun!”

27. Hy het nader gekom en hom gesoen, en toe hy die reuk kry van die klere wat Jakob aanhet, het Isak hom geseën en gesê:“Kyk, die reuk van my seun is soos die veld se reuk,die veld wat deur die Here geseën is.

28. God gee aan jou dou uit die hemel,die rykdom van die aarde: koring en wyn in oorvloed.

29. Volke sal jou dien, nasies sal voor jou buig;oor jou familie sal jy heers, jou broers sal voor jou buig.Wie 'n vervloeking oor jou uitspreek, sal self vervloek wees,wie jou seën, sal geseën wees.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 27