Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 26:5-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. want Abraham het na My geluister en hy was gehoorsaam aan my bevel: my gebooie, my voorskrifte en my wette.”

6. Isak het toe in Gerar gebly.

7. Die mense daar het oor sy vrou begin uitvra, en hy het gesê: “Dit is my suster.”Hy was bang om te sê dis sy vrou, want dan sou hulle hom dalk doodmaak oor Rebekka wat 'n baie mooi vrou was.

8. Toe hy 'n lang ruk daar gebly het, het koning Abimelek van die Filistyne op 'n keer deur die venster gesien hoe Isak sy vrou Rebekka liefkoos.

9. Abimelek het hom laat kom en vir hom gesê: “Maar sy is dan jou vrou! Hoekom het jy gesê sy is jou suster?”Isak het geantwoord: “Ek het gedink ek kan dalk doodgemaak word oor haar.”

10. Daarop sê Abimelek: “Wat het jy ons aangedoen! Hoe maklik kon een van die mans met jou vrou gemeenskap gehad het, en dan was jy die oorsaak dat ons sonde gedoen het.”

11. Abimelek het toe al sy mense gewaarsku: “Wie hierdie man of sy vrou molesteer, sal doodgemaak word.”

12. Isak het in daardie gebied gesaai, en daardie jaar het die saad honderdvoudig geskiet. Die Here het hom voorspoedig gemaak,

13. en hy het 'n ryk man geword, hy het vooruitgegaan sodat hy later baie ryk was.

14. Hy het troppe kleinvee en grootvee gehad en baie slawe. Toe het die Filistyne uit afguns

15. al die putte wat die slawe van sy pa Abraham nog in dié se tyd gegrawe het, toegegooi en opgevul.

16. Toe sê Abimelek vir Isak: “Trek weg van ons af. Jy het vir ons te sterk geword.”

17. Hy is toe daar weg en hy het by Gerarspruit kamp opgeslaan en daar gebly.

18. Isak het toe die putte oopgegrawe wat in sy pa Abraham se tyd gegrawe is en wat na Abraham se dood deur die Filistyne toegegooi is. Isak het die name wat sy pa aan die putte gegee het, weer aan hulle gegee.

19. Isak se slawe het 'n put gegrawe in die spruit en sterk water gekry.

20. Toe stry die skaapwagters van Gerar met dié van Isak en sê: “Dié water behoort aan ons.”Isak het toe die put “Rusie” genoem, omdat hulle daar met hom rusie gemaak het.

Lees volledige hoofstuk Genesis 26