Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 26:4-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Ek sal hierdie hele wêreld aan jou nageslag gee, en al die nasies van die aarde sal in jou nageslag geseën wees,

5. want Abraham het na My geluister en hy was gehoorsaam aan my bevel: my gebooie, my voorskrifte en my wette.”

6. Isak het toe in Gerar gebly.

7. Die mense daar het oor sy vrou begin uitvra, en hy het gesê: “Dit is my suster.”Hy was bang om te sê dis sy vrou, want dan sou hulle hom dalk doodmaak oor Rebekka wat 'n baie mooi vrou was.

8. Toe hy 'n lang ruk daar gebly het, het koning Abimelek van die Filistyne op 'n keer deur die venster gesien hoe Isak sy vrou Rebekka liefkoos.

9. Abimelek het hom laat kom en vir hom gesê: “Maar sy is dan jou vrou! Hoekom het jy gesê sy is jou suster?”Isak het geantwoord: “Ek het gedink ek kan dalk doodgemaak word oor haar.”

10. Daarop sê Abimelek: “Wat het jy ons aangedoen! Hoe maklik kon een van die mans met jou vrou gemeenskap gehad het, en dan was jy die oorsaak dat ons sonde gedoen het.”

11. Abimelek het toe al sy mense gewaarsku: “Wie hierdie man of sy vrou molesteer, sal doodgemaak word.”

12. Isak het in daardie gebied gesaai, en daardie jaar het die saad honderdvoudig geskiet. Die Here het hom voorspoedig gemaak,

13. en hy het 'n ryk man geword, hy het vooruitgegaan sodat hy later baie ryk was.

14. Hy het troppe kleinvee en grootvee gehad en baie slawe. Toe het die Filistyne uit afguns

15. al die putte wat die slawe van sy pa Abraham nog in dié se tyd gegrawe het, toegegooi en opgevul.

16. Toe sê Abimelek vir Isak: “Trek weg van ons af. Jy het vir ons te sterk geword.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 26