Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën.

2. Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: “Sit jou hand onder my heup

3. dat jy vir my met 'n eed in die Naam van die Here die God van die hemel en die aarde kan beloof dat jy nie my seun sal laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete by wie ek nou woon nie;

4. jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar 'n vrou gaan haal vir my seun Isak.”

5. Die slaaf het vir Abraham gevra: “En as die vrou nie saam met my hierheen wil kom nie? Moet ek dan u seun laat teruggaan na die land toe waar u vandaan kom?”

6. Toe sê Abraham vir hom: “Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie.

7. Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met 'n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’ Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun 'n vrou van my land af sal kan bring.

8. As die vrou nie saam met jou hierheen wil kom nie, is jy vrygestel van hierdie verpligting. Maar jy mag nie my seun laat teruggaan nie.”

9. Toe het die slaaf sy hand onder die heup van Abraham, sy eienaar, gesit en vir hom met 'n eed beloof om dit alles te doen.

10. Die slaaf het tien van sy eienaar se kamele gevat en ook allerlei mooi geskenke en vertrek na Mesopotamië toe, na die stad toe waar Nahor gewoon het.

11. Daar het hy die kamele by 'n fontein buite die stad laat kniel. Dit was laat middag, teen die tyd dat die vrouens uitkom om water te skep.

12. Hy het gebid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham.

13. Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep.

14. As ek vir 'n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 24