Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 10:5-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Esra het toe opgestaan en die leiers van die priesters en die Leviete en ook die hele Israel 'n eed laat aflê dat hulle dit sou doen. Hulle het die eed afgelê,

6. en Esra is toe van die tempel af na die kamer van Joganan seun van Eljasib toe. Hy het daarheen gegaan maar niks geëet of gedrink nie, want hy was besig om te rou oor die troueloosheid van die ballinge wat teruggekom het.

7. Al hierdie ballinge in Juda en Jerusalem is toe opgeroep vir 'n byeenkoms in Jerusalem.

8. Die ampsdraers en die leiers het besluit dat al die besittings van enigiemand wat nie binne drie dae daar was nie, gekonfiskeer sou word en dat hy self afgesny sou word van die gemeente van ballinge wat teruggekom het.

9. Die manne van Juda en Benjamin het almal binne die drie dae in Jerusalem bymekaargekom. In die negende maand, op die twintigste van die maand, was al die mense op die tempelplein. Dit het gereën, en hulle het gebewe van die koue, maar ook van die spanning.

10. Toe staan die priester Esra op en sê vir hulle: “Julle het troueloos opgetree. Julle het met vreemde vrouens getrou en daardeur die oortredings van Israel teen God nog meer gemaak.

11. Doen belydenis voor die Here die God van julle voorvaders en doen wat Hy wil hê: skei julle af van die heidennasies en die vreemde vrouens.”

12. Die gemeente het eenparig hardop geantwoord: “Alles wat u sê, moet ons doen.

13. Maar ons is baie mense, en dit is reëntyd. Ons kan nie hier onder die blote hemel bly staan nie. Dit is nie 'n werk van een of twee dae nie, want baie van ons het dié sonde begaan.

14. Laat ons leiers namens die hele gemeente optree. Dan kan elkeen wat met 'n vreemde vrou getroud is, op 'n vasgestelde tyd uit ons stede kom saam met die gesagsdraers en die regters van die betrokke stad en die saak afhandel. So kan ons dan die toorn van ons God van ons af wegkeer.”

15. Net Jonatan seun van Asael, en Jagseja seun van Tikwa, gesteun deur Mesullam en die Leviet Sabbetai, was teen die gedagte.

16. Die ballinge wat teruggekom het, het die plan aanvaar. Die priester Esra het manne by die naam aangewys, die hoofde van al die families. Hulle het op die eerste dag van die tiende maand sitting geneem vir die ondersoek

17. en het al die sake van die manne wat met vreemde vrouens getrou het, afgehandel gehad op die eerste dag van die eerste maand.

18. Daar is gevind dat die volgende priesters met vreemde vrouens getroud is:Uit die familie van Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote was daar Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja;

19. hulle het onderneem om van hulle vrouens te skei en het 'n ram as versoeningsoffer vir hulle misdaad teen God geoffer.

Lees volledige hoofstuk Esra 10