Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 48:7-21-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Juda.

8. “Teen die gebied van Juda, van oos na wes, moet die gebied lê wat julle as offergawe afstaan, twaalf en 'n half kilometer breed en net so lank as een van die ander stroke, van die oostelike tot by die westelike grens. Die heiligdom moet in hierdie gebied wees.

9. Die een gebied wat julle as offergawe aan die Here afstaan, moet twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed wees.

10. Dié gebied moet 'n gewyde offergawe wees wat tot die beskikking van die priesters is, en moet 'n strook wees van twaalf en 'n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die heiligdom van die Here moet in dié gebied wees.

11. Die gebied is tot die beskikking van die gewyde priesters, die nageslag van Sadok. Hulle het my dienswerk getrou gedoen en nie afgedwaal soos die Israeliete nie, soos die Leviete gedoen het.

12. Die gebied moet 'n offergawe wees, wat tot beskikking van die priesters is, 'n deel van die gebied wat as offergawe afgestaan word, 'n gewyde gebied langs dié van die Leviete.

13. “Die Leviete moet 'n gebied kry langs dié van die priesters, twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed.

14. Hulle mag nie daarvan verkoop nie. Hierdie deel van die land, die beste deel, mag nie verkoop of verruil word en in ander hande oorgaan nie, want dit is aan die Here gewy.

15. “Die strook van twaalf en 'n half by twee en 'n half kilometer wat oorbly, is bedoel as gewone stadsgebied, as woon- en weigebied. Die stad moet in dié gebied wees.

16. Die stad moet twee en 'n kwart kilometer in die vierkant wees.

17. Aan al vier kante moet daar 'n onbeboude strook van honderd vyf en twintig meter wees.

18. Die vyf kilometer wat oos en die vyf wat wes van die stad oor is langs die gebied wat as 'n gewyde offergawe afgestaan is, moet bewerk word vir die onderhoud van die mense wat in die stad werk.

19. Enigiemand wat in die stad werk, mag die grond bewerk, ongeag die stam van Israel waaruit hy kom.

20. “Die hele gebied wat afgesonder moet word, sal dus twaalf en 'n half kilometer in die vierkant wees. Julle moet dit as 'n gewyde offergawe afstaan. Die stadsgebied is daarby ingesluit.

21-22. “Die grond wat oorbly aan die oostekant en aan die westekant van die gewyde gebied waar die tempel en die stadsgebied en die gebied van die Leviete moet wees, is tot beskikking van die regeerder. Dit loop tot by die oosgrens van die land en weswaarts tot by die see en lê tussen die gebied van Juda en dié van Benjamin.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 48