Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 41:13-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Die man het eers die tempelgebou gemeet. Dit was vyftig meter lank. Daarna het hy die tempelplein agter die tempelgebou saam met die westelike gebou en sy mure gemeet, ook vyftig meter.

14. Voor die tempelgebou aan die oostekant was die tempelplein vyftig meter wyd.

15. Daarna het die man die westelike gebou aan die tempelplein agter die tempelgebou gemeet, saam met die gange weerskante van die groot gebou. Die afstand was vyftig meterDie voorste en die binneste tempelvertrekke, die toegangsportaal uit die binneste voorhof uit,

16. die drumpels, die hortjievensters en die gange rondom die tempelgebou, en ook die voorkante van die drumpels, was alles met hout oorgetrek. Van die grond af tot teen die vensteropenings was alles met hout oorgetrek, ook die vensteropenings self.

17. Bokant die ingang en teen die tempelgebou binne en buite, teen al die mure rondom binne en buite, was daar reëlmatig

18. gerubs en palmversierings aangebring, telkens 'n palm tussen twee gerubs. Elke gerub het twee gesigte gehad,

19. 'n mensgesig na die kant toe van die palm aan die een kant, en 'n leeugesig na die kant toe van die palm aan die ander kant. Die versierings was rondom teen die hele tempelgebou aangebring.

20. Van die grond af tot bokant die ingang was daar gerubs en palms aangebring, ook teen die muur van die voorste tempelvertrek.

21. Die voorste tempelvertrek se deurkosyn was vierkantig, en dié van die Allerheiligste ook.

22. Die altaar in die voorste tempelvertrek was van hout, een en 'n half meter hoog en een meter lank. Sy hoeke en sy kante rondom was van hout. Die man het vir my gesê: “Dit is die tafel wat in die teenwoordigheid van die Here staan.”

23. Die voorste tempelvertrek en die Allerheiligste het elkeen 'n deur gehad.

24. Elke deur het twee deurvleuels, twee swaaideure, gehad.

25. Op die swaaideure, op dié van die voorste tempelvertrek, was gerubs en palms aangebring net soos op die mure. Voor die toegangsportaal aan die buitekant was 'n afdak van hout.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 41