Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33:14-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. En wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy sal sekerlik sterwe, en hy bekeer hom van sy sonde en hy laat reg geskied en doen reg,

15. hy gee die goed terug wat hy as waarborg vir skuld gevat het, hy betaal terug wat hy geroof het, hy lewe volgens die voorskrifte wat lewe gee en hy pleeg nie onreg nie, sal hy lewe, hy sal nie sterwe nie.

16. Al die sonde wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy laat nou reg geskied en hy doen reg, en daarom sal hy in die lewe bly.

17. “Die mense van jou volk sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ maar dit is hulle wat nie reg optree nie.

18. Wanneer 'n goeie mens sy goeie dade laat vaar en onreg pleeg, sterf hy oor die onreg.

19. Wanneer 'n goddelose afsien van sy slegte dade en reg laat geskied en reg doen, bly hy daaroor in die lewe.

20. Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ Israel? Ek sal elke mens onder julle oordeel volgens sy doen en late.”

21. Op die vyfde van die tiende maand, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het daar iemand by my aangekom wat uit Jerusalem ontsnap het en vir my gesê: “Die stad is ingeneem!”

22. Die mag van die Here het my in besit geneem die aand voor die ontsnapte gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat voordat die man die oggend by my gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat, ek was nie meer stom nie.

23. Die woord van die Here het tot my gekom:

24. “Mens, dié wat daar tussen die puinhope in Israel woon, sê: ‘Abraham was net een mens, en hy het die land as besitting ontvang. Ons is baie; dié land is aan ons gegee as 'n besitting!’

25. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Julle het aan heidense offermaaltye deelgeneem, julle het by julle afgode hulp gesoek, julle het bloed vergiet, en julle wil die land as besitting hê?

Lees volledige hoofstuk Esegiël 33