Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die woord van die Here het tot my gekom:

2. “Mens, praat met die mense van jou volk en sê vir hulle: Wanneer Ek oorlog oor 'n land bring, en die mense van die land vat een van hulle en stel hom as 'n wag aan,

3. en hy sien die vyand aankom en blaas die ramshoring en waarsku sy mense,

4. en hulle hoor die ramshoring maar slaan nie ag op die waarskuwing nie, dan is hulle verantwoordelik vir hulle eie dood.

5. Hulle het die ramshoring gehoor maar nie op die waarskuwing ag geslaan nie, hulle is self verantwoordelik vir hulle dood. Dit is net dié wat op die waarskuwing ag slaan, wat hulle lewens red.

6. Maar wanneer die wag die vyand sien aankom en nie die ramshoring blaas sodat die mense gewaarsku word nie, en die vyand kom en maak party van die land se mense dood, dan sterf dié mense wel deur hulle eie sonde, maar Ek sal van die wag rekenskap eis vir hulle dood.

7. “Mens, Ek het jou die wag vir Israel gemaak. Wanneer jy by My die opdrag ontvang, moet jy hulle namens My waarsku.

8. Wanneer Ek van die goddelose sê dat hy sal sterwe, en jy praat nie en waarsku hom nie oor sy doen en late nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood.

9. Wanneer jy die goddelose waarsku oor sy optrede om hom daarvan te laat afsien, en hy sien nie daarvan af nie, dan sterf hy deur sy sonde en het jy jou eie lewe behou.

10. “Mens, jy moet vir Israel sê: Julle sê: ‘Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?’

11. “Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?

Lees volledige hoofstuk Esegiël 33