Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 23:24-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Hulle sal jou uit die noorde oorval met strydwaens en groot leërmagte. Toegerus met klein en groot skilde en met helms, sal hulle rondom teen jou stelling inneem. Ek gee jou aan hulle oor om jou te straf, en hulle sal jou straf volgens hulle gebruike.

25. Ek gee my woede teen jou vrye teuels: hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en jou ore afsny. Wat van jou inwoners oor is, sal met die swaard doodgemaak word. Hulle sal jou seuns en jou dogters vat, en wat van jou oorbly, sal verbrand word.

26. Hulle sal jou klere uittrek en jou juwele vat.

27. Ek gaan 'n end maak aan jou aanstootlike gedrag, jou onsedelikheid wat jy al in Egipte bedryf het. Jy sal nie meer na minnaars kyk nie en nie meer aan Egipte dink nie.”

28. So sê die Here my God: “Ek gee jou oor in die mag van dié wat jy haat, dié in wie jy 'n weersin gekry het.

29. Hulle sal hulle haat teen jou laat geld, hulle sal alles vat waarvoor jy gewerk het en jou kaal, sonder klere los. Almal sal jou onsedelike naaktheid sien. Jou afstootlike gedrag, jou onsedelikheid

30. doen dit aan jou. Jy het in jou ontrou ander nasies nagevolg en jou met hulle afgode verontreinig.

31. Jy het jou suster se voorbeeld gevolg, en daarom het Ek jou die beker laat drink wat sy moes drink.”

32. So sê die Here my God:“Jy sal die beker drink wat jou suster moes drink,'n diep, wye beker.Jy sal bespot en uitgelag word,want daar is baie in die beker.

33. Jy sal jou vol drink en dronk word van swaarkry;die beker wat jou suster Samaria moes drink,is 'n beker vol angs en skrik.

34. Jy sal hom leeg drink, alles opdrink,jy sal aan sy skerwe knaag,jy sal jou borste stukkend skeur.Ek, die Here, het gepraat,”sê die Here my God.

35. So sê die Here my God: “Omdat jy My vergeet het en jou rug vir My gedraai het, sal jy die straf vir jou aanstootlike gedrag en jou onsedelikheid dra.”

36. Die Here het vir my gesê: “Mens, oordeel jy oor Ohola en Oholiba. Vertel vir hulle van hulle afskuwelike dade.

37. Hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande. Hulle het owerspel gepleeg met hulle afgode en hulle het boonop hulle kinders wat hulle vir My in die wêreld gebring het, as offers laat verbrand.

38. Hulle het My ook nog dít aangedoen: hulle het my heiligdom ontwy en op dieselfde dag my sabbatte ontheilig;

39. hulle het hulle kinders vir hulle afgode geslag en op dieselfde dag in my heiligdom gekom en dit ontwy. Dit is wat hulle binne-in my huis gedoen het.

40. “Ja, jy het mans van ver af laat kom, jy het boodskappers na hulle toe gestuur en hulle het gekom. Jy het gebad, jou oë geverf en jou juwele aangesit.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 23