Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 23:10-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Hulle het haar klere uitgetrek, haar seuns en dogters weggevat en haar toe met die swaard doodgemaak. Die straf wat sy ondergaan het, het van haar 'n voorbeeld gemaak wat vrouens moes afskrik.

11. “Haar suster Oholiba het dit alles gesien. Maar haar wellus en haar onsedelikheid was nog erger as dié van haar suster.

12. Sy het gesmag na die Assiriërs, goewerneurs, ampsdraers, vegters met pragtige klere aan, ruiters te perd, almal uitgesoekte manne.

13. Ek het gesien hoe sy haar verontreinig. Die twee susters het dieselfde pad geloop.

14. Maar Oholiba het met haar onsedelikheid nog verder gegaan. Sy het mansfigure teen 'n muur afgeteken gesien, afbeeldings van Galdeërs, met 'n rooi kleurstof geteken;

15. hulle het lendedoeke om die heupe gehad en oorhangende tulbande op die koppe; almal het na offisiere gelyk en dit het gelyk of hulle Babiloniërs kon wees, afkomstig uit Galdeërland.

16. Toe sy hulle sien, het sy na hulle gesmag; sy het boodskappers na hulle toe in Galdeërland gestuur,

17. en die Babiloniërs het na haar toe gekom en by haar geslaap en haar verontreinig met hulle onsedelikheid. Maar nadat sy van hulle onrein geword het, het sy 'n teësin in hulle gekry.

18. “Omdat sy so openlik onsedelik was en haar klere vir almal uitgetrek het, het Ek ook 'n teësin in haar gekry, net soos in haar suster.

19. Sy het immers aangegaan met haar onsedelikheid en haar rondlopery wat al in haar jeug in Egipte bestaan het, nie laat vaar nie.

20. Sy het gesmag na die wellustelinge onder hulle wat so goed bedeeld was soos donkiehingste en perdehingste.

21. Ja, jy het bly terugverlang na jou afstootlike gedrag in jou jeug toe die Egiptenaars jou borste betas, jou jeugdige borste gestreel het.

22. “Daarom, Oholiba,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou jou minnaars in wie jy 'n teësin gekry het, teen jou aanhits, Ek bring hulle van alle kante af na jou toe;

23. die Babiloniërs, al die Galdeërs, die mense van Pekod, Soa en Koa, en al die Assiriërs saam met hulle, uitgesoekte manne, almal goewerneurs en ampsdraers, offisiere en vooraanstaande mense, almal te perd.

24. Hulle sal jou uit die noorde oorval met strydwaens en groot leërmagte. Toegerus met klein en groot skilde en met helms, sal hulle rondom teen jou stelling inneem. Ek gee jou aan hulle oor om jou te straf, en hulle sal jou straf volgens hulle gebruike.

25. Ek gee my woede teen jou vrye teuels: hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en jou ore afsny. Wat van jou inwoners oor is, sal met die swaard doodgemaak word. Hulle sal jou seuns en jou dogters vat, en wat van jou oorbly, sal verbrand word.

26. Hulle sal jou klere uittrek en jou juwele vat.

27. Ek gaan 'n end maak aan jou aanstootlike gedrag, jou onsedelikheid wat jy al in Egipte bedryf het. Jy sal nie meer na minnaars kyk nie en nie meer aan Egipte dink nie.”

28. So sê die Here my God: “Ek gee jou oor in die mag van dié wat jy haat, dié in wie jy 'n weersin gekry het.

29. Hulle sal hulle haat teen jou laat geld, hulle sal alles vat waarvoor jy gewerk het en jou kaal, sonder klere los. Almal sal jou onsedelike naaktheid sien. Jou afstootlike gedrag, jou onsedelikheid

30. doen dit aan jou. Jy het in jou ontrou ander nasies nagevolg en jou met hulle afgode verontreinig.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 23