Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 21:22-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Die teken wat hy gesoek het, kom in sy regterhand: Jerusalem! Die koning van Babel gaan stormramme regmaak, die bevel gee om aan te val, oorlogskrete skreeu, die stormramme teen die poorte opstel, 'n beleëringswal opgooi, beleëringswerke bou.

23. Die mense in Jerusalem sal dink dis 'n vals teken, want hulle het plegtige ede afgelê aan die koning van Babel. Maar hy sal hulle herinner aan hulle oortreding en hy sal hulle aanval.

24. “Daarom,” so sê die Here my God, “het julle self gewys hoe skuldig julle is toe julle opstandigheid aan die lig gekom het en julle sondes duidelik geword het aan alles wat julle doen, julle is aan die kaak gestel en julle sal aangeval word.

25. “En jy, regeerder van Israel wat deur jou goddeloosheid gaan sterwe, jy wie se dag gekom het, die tyd van afrekening,”

26. so sê die Here my God: “Haal af jou tulband en jou kroon, niks bly soos dit is nie; wat onder is, moet op, en wat bo is, moet af.

27. Puin, puin, puin maak Ek dit! Maar ook dit sal nie gebeur voordat hy kom wat die stad moet straf nie, en Ek sal die stad vir hom gee.”

28. “En jy, mens, tree op as profeet en sê: So sê die Here my God oor die Ammoniete en oor hulle gespot. Sê:“Swaard, swaard wat getrek is vir die slagting,blinkgevryf is om te blits,

29. al was daar gesigte oor jou wat nie bestaan het nie,voortekens oor jou wat leuens was,jy kap reeds aan die nekkevan dié wat deur hulle goddeloosheid gaan sterwe,dié wie se dag gekom het, die tyd van afrekening.

30. Maar sit die swaard terug in sy skede!Op die plek waar jy geskep is,in die land van jou herkoms sal Ek jou straf.

31. Ek sal my woede oor jou laat losbreek,Ek blaas die vuur van my gramskap oor jou,Ek gee jou oor in die mag van wrede mensewat weet hoe om uit te roei.

32. Jy sal deur vuur verteer word,jou bloed sal vloei in die land,die gedagtenis aan jou sal verdwyn,want Ek, die Here, het gepraat.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 21