Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 21:18-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Die woord van die Here het tot my gekom:

19. “Mens, jy moet vir die koning van Babel se swaard twee paaie maak om op aan te kom. Die twee paaie moet uit dieselfde land kom en jy moet 'n padwyser uitkap waar die pad na die stad toe begin. Jy moet dit uitkap

20. en die rigting aandui waarlangs die swaard kan kom na Rabba, die Ammonietestad toe, en na Juda, na die vestingstad Jerusalem toe.

21. Die koning van Babel staan by die kruispad waar die twee paaie begin, en hy soek na 'n teken, hy skud die pyle, hy raadpleeg sy afgodsbeeldjies, hy kyk na 'n dier se lewer.

22. Die teken wat hy gesoek het, kom in sy regterhand: Jerusalem! Die koning van Babel gaan stormramme regmaak, die bevel gee om aan te val, oorlogskrete skreeu, die stormramme teen die poorte opstel, 'n beleëringswal opgooi, beleëringswerke bou.

23. Die mense in Jerusalem sal dink dis 'n vals teken, want hulle het plegtige ede afgelê aan die koning van Babel. Maar hy sal hulle herinner aan hulle oortreding en hy sal hulle aanval.

24. “Daarom,” so sê die Here my God, “het julle self gewys hoe skuldig julle is toe julle opstandigheid aan die lig gekom het en julle sondes duidelik geword het aan alles wat julle doen, julle is aan die kaak gestel en julle sal aangeval word.

25. “En jy, regeerder van Israel wat deur jou goddeloosheid gaan sterwe, jy wie se dag gekom het, die tyd van afrekening,”

26. so sê die Here my God: “Haal af jou tulband en jou kroon, niks bly soos dit is nie; wat onder is, moet op, en wat bo is, moet af.

27. Puin, puin, puin maak Ek dit! Maar ook dit sal nie gebeur voordat hy kom wat die stad moet straf nie, en Ek sal die stad vir hom gee.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 21