Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:38-54 Afrikaans 1983 (AFR83)

38. Ek gaan jou straf soos vrouens gestraf moet word wat owerspel en moord gepleeg het. Ek laat jou die moorde voel, die gramskap, die woede.

39. Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars. Hulle sal jou offerbulte afbreek, jou hoogtes verwoes. Hulle sal jou klere uittrek, jou juwele afvat en jou kaal, sonder klere daar laat staan.

40. Hulle sal 'n vergadering bymekaarroep om jou te veroordeel, hulle sal jou met klippe doodgooi en jou met hulle swaarde in stukke kap,

41. hulle sal jou huise afbrand. So sal hulle jou vonnis voltrek ten aanskoue van al die vrouens. Ek maak 'n end aan jou hoerery. Jy sal nie weer geskenke uitdeel nie.

42. “Eers wanneer Ek my gramskap teen jou laat uitwoed het, my woede op jou gekoel het, sal Ek bedaar en nie meer bitter wees nie.

43. Jy het die tyd van jou jeug vergeet en My woedend gemaak, en Ek het wat jy gedoen het, op jou kop laat afkom,” sê die Here my God. “By al jou afskuwelike dade het jy boonop nog dié aanstootlike dinge gedoen.

44. “Almal wat van spreekwoorde hou, sal oor jou ook een hê: ‘Die dogter is soos die ma.’

45. Jy is jou ma se dogter. Sy het 'n weersin gehad in haar eie man en kinders. Jy is jou susters se suster. Hulle het 'n weersin gehad in hulle mans en kinders. Julle ma was 'n Hetiet en julle pa 'n Amoriet.

46. Jou ouer suster is Samaria. Sy en haar dogters woon noord van jou. Jou suster wat jonger as jy is, is Sodom. Sy en haar dogters woon suid van jou.

47. Jy het nie net min of meer hulle voorbeeld gevolg en hulle afskuwelike dade nagedoen nie, jy was erger as hulle met alles wat jy gedoen het.

48. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “jou suster Sodom en haar dogters het nie gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie.

49. Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oorgehad het nie.

50. Hulle was hooghartig en het voor my oë afskuwelike dinge gedoen. Daarom het Ek hulle laat verdwyn, soos jy gesien het.

51. Samaria het nie die helfte van die sondes gedoen wat jy gedoen het nie. Jy het baie meer afskuwelike dinge gedoen as hulle. Teenoor al die afskuwelike dinge wat jy gedoen het, lyk dit of jou susters 'n goeie lewe gelei het.

52. Dié skande moet jy ook nog dra, dat jy met jou sonde vir jou susters ingestaan het: jy het afskuweliker dinge as hulle gedoen en dit laat voorkom asof hulle in vergelyking met jou 'n goeie lewe gelei het. Jy moet nou die skande en skaamte dra dat jy aan jou susters die skyn van onskuld besorg het.

53. Ek gaan hulle lot verander, die lot van Sodom en haar dogters en die lot van Samaria en haar dogters, en joune daarmee saam.

54. So sal jy jou skande dra en jou moet skaam oor wat jy alles gedoen het wat hulle bevoordeel het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16