Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:2-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. “Mens, sê vir Jerusalem wat se afskuwelike dinge hy gedoen het.

3. Jy moet sê: So sê die Here my God vir Jerusalem: Kanaän is die land van jou herkoms en jou geboorte. Jou pa was 'n Amoriet, jou ma 'n Hetiet.

4. Toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie, jy is nie gebad nie, nie met sout ingevryf nie en nie in doeke toegedraai nie.

5. Niemand was oor jou besorg of het soveel vir jou oorgehad dat hy een van dié dinge vir jou gedoen het nie. Jy is met afsku behandel en in die veld weggegooi die dag toe jy gebore is.

6. “Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel. Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef!’ Ja, Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef,

7. groei!’“Ek het jou soos 'n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword. Jy het 'n pragtige meisie geword, jou borste het styf geword en jou hare lank. Maar jy was kaal, jy het nie klere gehad nie.

8. Toe Ek by jou verbykom en sien dat jy volwasse begin word, het Ek jou onder my sorg geneem en vir jou klere aangetrek. Ek het My met 'n eed aan jou verbind en met jou 'n verbond aangegaan, sê die Here my God. Jy het Myne geword.

9. Ek het jou gebad, die bloed van jou afgewas en jou met olie ingesmeer.

10. Ek het vir jou 'n veelkleurige rok aangetrek en skoene van gebreide vel, Ek het vir jou klere laat dra van linne en ander kosbare stof.

11. Ek het jou getooi met juwele: vir jou armbande en halssnoere aangesit,

12. 'n ring aan jou neus, hangertjies aan jou ore en 'n pragtige krans op jou kop.

13. Jy kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword, geskik om 'n koningin te wees.

14. Jy het onder die nasies beroemd geword om jou skoonheid. Dit was 'n volmaakte skoonheid, die gevolg van die prag waarmee Ek jou uitgerus het,” sê die Here my God.

15. “Maar toe verlaat jy jou op jou skoonheid, jy gebruik jou beroemdheid om 'n slet te word en jy stel jouself vrylik tot beskikking van enigiemand wat verbykom, jy word syne.

16. Jy het van jou klere gevat en vir jou veelkleurige hoogtes gemaak en daar jou afgodery bedryf, iets heeltemal ongehoords.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16