Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 13:3-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. So sê die Here my God: Ellende wag vir die verwaande profete wat geen gesigte gesien het nie en hulle deur hulle eie gedagtes laat lei.

4. Jou profete is soos jakkalse tussen die puinhope, Israel.

5. Hulle het nie gegaan na waar die muur omgeval het en weer 'n muur om Israel gebou sodat hy staande kan bly in die oorlog wanneer die oordeelsdag van die Here kom nie.

6. Hulle het gesigte gesien wat nie daar was nie en hulle waarsêery is leuens. Hulle sê: ‘Die Here sê’ al het Hy hulle nie gestuur nie, en dan verwag hulle dat Hy moet laat uitkom wat hulle sê.

7. Hulle sien gesigte wat nie daar was nie en hulle verkondig leuens as waarsêery, hulle sê: ‘Die Here sê’, maar Ek het dit nie gesê nie.

8. “Daarom,” so sê die Here my God, “omdat wat hulle sê, vals is en omdat wat hulle as gesigte sien, leuens is, is Ek hulle teenstander,” sê die Here my God.

9. “Ek tree op teen die profete wat gesigte sien wat nie daar was nie en wat leuens uitgee vir waarsêery. Hulle sal nie plek hê in die vertroulike byeenkoms van my volk nie, nie opgeskryf word in die boek van Israel nie en nie op die grondgebied van Israel kom nie. Dan sal hulle besef dat Ek die Here God is.

10. “Hulle het my volk verlei, hulle het gesê: ‘Dit sal goed gaan’ toe dit nie sou goed gaan nie, en toe die volk 'n muur bou, het daardie profete dit netjies afgewit.

11. “Sê vir dié wat die muur afgewit het wat gaan val: Daar kom stortreëns, Ek laat haelstene val, stormwinde sal losbreek.

12. Die muur gaan val, en die mense sal vir julle vra: ‘Waar is die witsel waarmee julle dit afgewit het?’

Lees volledige hoofstuk Esegiël 13