Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 12:9-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. “Mens, die weerbarstige volk Israel het vir jou gevra wat maak jy.

10. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Hierdie uitspraak gaan oor die koning in Jerusalem en oor al die Israeliete wat in die stad is.

11. “Jy moet sê: ‘Ek is vir julle 'n teken. Soos ek gedoen het, so sal met julle gedoen word.’“Hulle sal gevangenes word en in ballingskap weggevoer word.

12. Die koning wat tussen hulle is, sal sy goed in die donker op sy skouers sit en vertrek. Hy sal 'n gat deur die muur breek om deur te gaan en hy sal sy gesig toemaak sodat hy nie die land kan sien nie.

13. Ek gooi my vangnet oor hom, hy sal gevang word in my net, en Ek sal hom na Babel, na Galdeërland toe bring, maar hy sal dit nie sien nie en sal daar sterf.

14. Almal by hom wat hom help, al sy soldate wat hom help, sal Ek in al die windrigtings verstrooi en hulle met die swaard agtervolg.

15. Wanneer Ek hulle uitmekaargejaag het onder die nasies in en hulle oor baie lande verstrooi het, sal hulle besef dat Ek die Here is.

16. Maar Ek sal 'n paar van hulle laat oorbly ná die oorlog, die hongersnood en die pes sodat hulle van hulle afskuwelike dade kan vertel waar hulle onder die nasies kom en die nasies sal besef dat Ek die Here is.”

17. Die woord van die Here het tot my gekom:

18. “Mens, jy moet jou kos al bewende eet en jou water met ontsteltenis en met kommer drink.

19. En jy moet vir die burgers van die land sê: So sê die Here my God vir die inwoners van Jerusalem, vir die land Israel: Hulle sal hulle kos met kommer eet en hulle water met huiwering drink, want die land sal gestroop word van alles wat daarin is omdat almal wat daar gewoon het, soveel geweld gepleeg het.

20. Die stede wat bewoon is, sal puinhope word en die land sal verlate wees. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

21. Die woord van die Here het tot my gekom:

22. “Mens, wat se spreekwoord is dit wat julle oor die land Israel het? Julle sê: ‘Die tyd gaan verby en daar kom niks van al die gesigte nie.’

23. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek maak 'n end aan dié spreekwoord. Hulle sal hom nie weer in Israel gebruik nie. Sê vir hulle: Die tyd kom vinnig nader en so ook die vervulling van elke gesig.

24. Daar sal nie meer vertel word van gesigte wat nie daar was nie, en daar sal nie meer gladde waarsêerpraatjies onder Israel wees nie.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 12